Na heroorweging word die 1ste Uitgawe van Kwevoel Nuusbrief nou geplaas. (Slegs stories en geen persoonlike fotos) en dit is reeds ‘n paar maande oud.
SKRYWE UIT DIE PEN VAN ONS VOORSITTER
Die jaar het met ‘n hoë werkslading begin en dit het gevoel of die jaar oorgeskakel het in ʼn hoë rat. Die reën in Desember en Januarie was baie welkom maar met swaar weer het ons redelik baie skade in die Oord gehad. Infrarooi strale, paniekknoppie stelsel, telefone en bome het in die slag gebly.
Gedurende die begin van Februarie was die hitte versengend en die effek kon duidelik gesien word in die tuine en grasperke. Gelukkig het die welkome reën van die laaste paar dae baie gehelp om die hitte bietjie te verlig.
Baie welkom aan al die nuwe intrekkers maar ons het ook baie inwoners gegroet. Sterkte met die verhuising en vrede by die nuwe tuiste.
Kom ons maak die beste van die res van die jaar.
Groete
Wessie
*************************************************************************************
Our Chairman
Wessie is in his 6th year as chairman of the Management Committee, and he has worked with many Management Committee Members and has had to make a few tough decisions over the years. He came close to giving up (as Namibians have a short temper), but luckily he prevailed. His health took quite a knock last year, and he still battles to get it back on track. We all wish him well and Wessie, “dra maar Susan se kousies oor die seer arms”. His daughter, living in Dubai, was involved in a motor accident, but luckily, she is much better now. His son, living in Wisconsin in America, had “Bell’s Palsy” on the right side of his face in December and is still having problems with his eye. His brother also passed away in January, and we are thinking of him.
MANAGEMENT COMMITTEE
*************************************************************************************
TRADISIE
Moenie sê in die ou dae was dit beter as nou nie; dit is nie uit wysheid dat ‘n mens so sê nie (Prediker 7:10).
“Waarom gebruik julle in die land Israel hierdie spreekwoord: “ ‘Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp’? “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “julle sal nie meer dié spreekwoord in Israel gebruik nie. Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf (Esegiël 18:2-4).
Tradisie is die voetspore van die voorgeslagte. Dit vertel van ‘n pad wat al geloop is. Baie spreekwoorde kom vanuit die wysheid van ervaring. Die nalatenskap van die tradisie se bedoeling is dat ons nie weer dieselfde foute hoef te maak nie. Die tradisie gee beproefde raad en wil keer teen onnodige seerkry.
Tradisie kan egter ook bloot die onkritiese oorname van gebruike wees. Ek onthou die verhaal van die ma wat vir haar kind geleer het dat ‘n mens nie jou hoed op die tafel sit nie. Toe hy haar vra hoekom nie het sy gesê dat haar ma en haar ouma haar so geleer het. Die kind was nie tevrede met die antwoord nie. Na baie navraag en navorsing is bevind dat die mense van die vroeër generasies baie gesukkel het met kopluise. Die reël het toe ontstaan dat ‘n mens ter wille van higiëne nie jou hoed op die tafel sit nie.
Daar is in die ou Nabye Ooste geglo die groep is baie belangriker as die individu. Die individu was alleen belangrik vir soverre dit die groep geraak het. Derhalwe was daar die siening dat kinders die gevolge van hulle ouers se optrede moet dra (Eseg 18:2). Die Here keer deur middel van die profeet Esegiël hierdie tradisionele siening om. Elke mens is verantwoordelik vir sy eie sonde (vers 3-4). Goeie ouers kan slegte kinders hê en slegte ouers kan weer goeie kinders hê. Elkeen het dus ‘n keuse en hoef nie die slagoffer te speel van sy herkoms nie. Ons het baie mooi dinge geërf uit ons tradisie in Suid-Afrika. Om hard te werk en jou beste te gee en om trots te wees op jou taal, is van die mooi dinge vanuit ons tradisie. Daar is egter ook dinge wat ongelukkig verlore geraak het soos byvoorbeeld gasvryheid teenoor vreemdelinge, respek vir onderwysers en harde werk. Maak gerus maar jou lysie …
Kom ons gebruik die tradisie om lesse te leer en om juwele uit die verlede te herleef. Maar laat ons ook krities omgaan met ongetoetste voorskrifte wat kwetsend en beperkend kan wees.
My gebed: Here, baie dankie vir die mooi dinge wat my voorgeslagte aan my oorgelewer het. Help my om dit as ‘n kosbare juweel deur te gee aan my kinders en kleinkinders.
Amen.
Dr. Chris Harris
*************************************************************************************
KERSTYD IN RENAISSANCE
Elke jaar tydens die Kersgety, word die ingang na die Oord getooi met die mooiste kersliggies.
Hierdie jaar was geen uitsondering nie. Dankie aan Susan en Esta vir die inisiatief en aan almal wat kersliggies skenk om die Oord ook feestelik te laat lyk. Aangesien die liggies net saans gesien kan word is die fotos wat beskikbaar is redelik donker en sal dit nie duidelik uitkom nie maar hoop vir die beste.
Baie van die inwoners het ook meegedoen en orals het mooi liggies ook van die eenhede versier. Ongelukkig het die weer nie saamgespeel nie en het weerlig ‘n paar dae voor Kersfees al die kersliggies getref en is sakke vol stukkende liggies bymekaar gemaak. Dit was nogtans die moeite werd.
*************************************************************************************
KERSFEES ETE
Kersdag wil almal graag by hul familie wees, omring deur kinders en kleinkinders. Dit is egter nie altyd die geval nie. Hierdie jaar was die gedagte dat die inwoners van ons oord, wat nie by familie kon uitkom nie, nie alleen in hul huise moes sit en verlang nie. Aan al die enkellopendes of as egpaar wat sou tuis bly was gevra om hul gunsteling gereg voor te berei, ‘n piekniek mandjie te pak met eetgerei en drinkgoed en dit na die Lapa te bring. Al die verskillende inwoners se geregte is op die tafel uitgepak en almal kon heerlik van mekaar se disse proe en saamkuier vanaf 12:00. Dit was heel gesellig.
*************************************************************************************
OUJAARSDAG KERKDIENS
Weereens is die jaar afgesluit met ‘n kerkdiens om 17:00 in die Nes op 31 Desember 2025, waargeneem deur ons eie Dr. Chris Harris.
Die diens was deur baie inwoners bygewoon en soos gewoonlik het Dr. Chris ‘n inspirerende boodskap gehad met die versoek dat almal teenwoordig tog maar na afloop van die diens vir mekaar ‘n handdruk sal gee met goeie wense vir die jaar wat voorlê.
*************************************************************************************
NUWEJAARS BRAAI
Om die oujaar af te sluit en die Nuwe jaar in te gaan, is besluit op ‘n ‘bring en braai’ middag. Almal het hul eie vleis verskaf, die vure was aangesteek en daarby was pap en sous verskaf om dit af te rond. Almal het lekker saam gekuier en die brawe oues het wakker gebly tot 12 uur om die nuwe jaar in te wag.
*************************************************************************************
Feite, geite, grille, en goeters van Sonkragstelsels
Ons ouer generasie het eers onlangs met sonkragstelels kennis gemaak. Nou weet ons al dat dit bestaan uit sonpanele op jou dak, ‘n sogenaamde inverter, en litium batterye. En dis ook nie spotgoedkoop nie.
‘n Tipiese stelsel se vermoë (output) is so 5 kW. Kom ons kyk van naderby wat daar aangaan.
- Sê maar jy het 5 kW se sonpanele op jou dak. Hulle wek net krag op terwyl die son skyn. Maar die son is maar flou wanneer dit opkom maar word algaande sterker met ’n maksimum so teen 12 uur die dag. Dán eers kry jy (dalk) die hoeveelheid krag wat jou sonpanele kan lewer. So jy het alreeds die nag se krag en sowat helfte van die dag se krag verloor. As dit nou nog bewolk is en reën dan verloor jy potensieël nog meer krag.
- Om bo-staande probleem te oorbrug moet jy ‘n battery installeer om die oortollige krag wat jy dalk gedurende mooi sonskyntye opwek, te kan stoor. Dit moet genoeg wees om jou deur die aand en die nag en bewolkte tye te kan dra.
- Ongelukkig is die verliese in pt. 1 hierbo genoem nie die enigstes nie. As jy na ‘n kaart kyk wat die sonenergieverspreiding oor die RSA wys, dan merk jy dat ons nie op die beste plek geleë is vir sonkrag nie. Die beste plek is iewers naby Upington. Die slegste plekke is langs die kus. Verder is dit ook so dat elektriese installasies nie hou van hitte nie. So jou sonpanele op die dak in die baie warm Bela-Bela se weerstand gaan op en hulle produseer minder krag as wat die etiket aandui. Dan is daar stof in die lug en stof op die sonpanele, en daar is winter wanneer die son daar vêr is. Dit bring als mee dat jy uiteindelik maar sowat 70% van die krag uit jou panele in die middel van die dag kry. Voor dit, en na dit, kry jy nog minder. Dit beteken dat jou 5 kW-stelsel se sonpanele is eintlik maar net 3.5 kW wêrd in die middel van die dag.
- Om hierdie probleme te oorkom moet jy meer sonpanele en ‘n groter battery installeer as wat jy aanvanklik sou dink. Alternatiewelik moet jy bereid wees om meer van Eskom se produk te gebruik teen hulle tarief. Omdat ‘n sonkragstelsel duur is, en Eskom se tarief reeds hoog is, en steeds hoër gaan word, moet jy ‘n besluit neem oor jou benadering. Wil jy geld spaar, of wil jy deurlopend krag beskikbaar hê, of moontlik albei? Dis nogal moeilik. As jy nog jongerig is dan kan jy die kapitaal wat jy sou uitlê vir ‘n sonkragstelsel terugwen oor tyd en jy het deurlopend goedkoop krag. Dit help ook met wateronderbrekings want dan kan jou pomp, as jy een het, jou uit die verknorsing help. Dit help ook om die kVA-lading te verlig, afhangend van hoe jou stelsel geprogrammeer is.
- Sekere toestelle in jou huis is elektrisiteitsvrate. Soos die stoof, oond, skottelgoedwasser, tuimeldroër en geiser. Gewoonlik word die stoof, oond en geiser nie aan jou sonkragstelsel gekoppel nie en betaal jy Eskom vir wanneer jy hulle gebruik. Dit is egter moontlik om ‘n 2 kW geiserelement te installeer en dan die geiser met sonkrag te verhit terwyl jy bv. die ketel kook. Jy kan ook bv. ‘n lugbraaier gebruik, of mikrogolfoond, of ‘n Snappy Chef-plaat wat almal by die muur inprop en sodoende sonkrag gebruik ipv. Eskom- krag. Al hierdie dinge kan egter net gebruik word wanneer jy voldoenede sonkrag het, verkieslik bedags. Saans sal hulle die battery gou-gou pap maak en dan het jy nie sonkrag, gratis nogal, deur die nag vir jou yskaste en TV nie. Moet egter nie stres nie, want als sal outomaties gebeur indien jy nie die stelsel wil, of kan, bestuur nie. Dit sal jou net ekstra kos en jy sal minder bespaar.
- Dit bring ons by die sg. inverter, of omskakelaar. Dit is die hart en brein van ‘n sonkragstelsel. Dit is slimmer as ‘n hele klas vol matrieks. Dit verrig ‘n aantal funksies, soos om die sonpanele se verrigting te optimaliseer mbv. ‘n sg. MPPT- stelsel. Die omskakelaar verander ook die sonkrag vanaf die sonpanele, wat selfs in die orde van 300 Volt kan wees, na ‘n spanning van sowat 50 Volt wat in ‘n 5 Kw lithium battery gestoor kan word. Dit reguleer die lading in die battery sodat dit nie oorlaai nie. Die sonpanele en battery is almal gelykstroom apparate, maar jy gebruik 230V wisselstroom in jou huis. So, die omskakelaar verander die gelyktroom na wisselstroom. Omdat die omskakelaar die hele stelsel moet beveilig teen oorgebruik of toevallige misbruik, of selfs oorverhitting, sal dit sekere funksies afskakel soos nodig. Maar die omskakelaar het ook ‘n boonste perk waarbo dit nie krag aan jou huis sal lewer nie, en sal afskakel. Soos wanneer jy die ketel, en broodrooster, en stofsuier, en mikrogolfoond almal gelyktydig sou aanskakel. Dan “trip” (pooitjie) die stelsel. Sommige stelsels benodig nie ‘n battery nie, maar werk gevolglik dan ook slegs wanneer die son skyn.
- Sekere funksies en limiete van die omskakelaar kan geprogrammeer word na jou behoeftes. Jy kan die stelsel so opstel dat die battery nooit vanaf Eskom sal laai nie, maw. slegs met sonkrag.
Jy kan dit so opstel dat wanneer die battery ‘n sekere onderste limiet bereik die stelsel outomaties na Eskom oorskakel. Dit gebeur gewoonlik in die nag wanneer die yskaste die battery tot,sê 30%, gedreineer het en jy ‘n 30% reserwe wil behou vir ingeval daar beurtkrag sou ontstaan. Die stelsel sal dan op Eskom bly tot, sê 50%, en dan Eskom afskakel. Let egter daarop dat die laai van die battery vanaf 30% tot 50% met sonkrag plaasvind nadat die son opkom. Telkens terwyl Eskom gebruik word lewer Eskom slegs die hoeveelheid krag wat jou huis benodig op daardie oomblik. Nie meer nie, en nie minder nie.
- Sonkragstelsels het meesal ‘n Wi-Fi-stelsel wat jou toelaat om via jou selfoon te sien wat gebeur op ‘n bepaalde tyd. As jy dus met vakansie iewers is kan jy sien wat gebeur met jou stelsel. Jy kan bv. jou geiser met afstandbeheer aan of af skakel, of dit met ‘n tydskakelaar beheer.
- Net soos in pt. 7 Eskom net lewer wat jy benodig, doen die sonpanele ook. Wanneer bv. slegs die yskaste aan is in die middel van die dag dan lewer die sonpanele minimale krag. Indien jy egter die mikrogolfoond en ketel sou aanskakel sal hulle dadelik weer die benodigde krag opwek, niks meer en niks minder nie. Wanneer die battery “pap” is sal die sonpanele maksimaal werk totdat die battery volgelaai is. Gedurende die dag lewer die sonpanele direk krag aan die inverter vir wisselstroom en “bypass” dan die battery, mits dit reeds volgelaai is.
- Indien jy dalk een van daardie kragstelsels op wiele het,
wat jy tydens die beurtkrag-epidemie gekoop het, hou dit en laai dit bedags met jou sonkragstelsel. Gebruik dit bv. om saans jou TV, rekenaar of ‘n waaier te dryf. Dit gee jou indirek ekstra batterykapasiteit. En dis reeds betaald. As jy so ‘n trollie kragstelsel het en dit nie gebruik nie, laai dit so 4 keer per jaar om te keer dat die battery nie beskadig nie agv. natuurlike ontlading oor tyd.
Saamgestel deur Johann Benade
*************************************************************************************
PERSPEKTIEF OP DIE LEWE
Daar was ʼn boer wat ongelukkig begin raak het met sy plaas en toe besluit hy om dit te verkoop. ʼn Paar dae later skakel die eiendomsagente en vra toestemming om die plaas in die plaaslike koerantjie te adverteer.
Die dame het die advertensie vir die boer gelees.
Dit het die plasie beskryf as ʼn pragtige plekkie, in ʼn ideale omgewing – stil en rustig, omring deur groen heuwels, gevoed deur die dam en geseën met goed geteelde diere. Die boer vra toe dat sy dit weer vir hom moet lees.
Nadat hy dit die tweede keer gehoor het, sê hy: “Ek het van plan verander. Ek verkoop nie meer nie. Ek het my hele lewe lank nog na so ʼn plek gesoek.”
Wat het verander?
Sy perspektief. Soms moet ʼn mens dit wat jy as vanselfsprekend beskou, of dit wat jy as alledaags sien en wat begin om jou te verveel, sien deur iemand anders se oë, voor jy dit weer kan waardeer.
Neem ʼn oomblik om regtig eerlik te wees oor jouself en jou lewe. Sien die seëninge van elke dag eerder raak!
*************************************************************************************
WELKOM AAN DIE NUWE RENAISSANCERS
SONJA SMALBERGER – E1
Sonja is ‘n ou bekende in die Oord. Sy het beslis nie gesê, ‘fonteintjie van jou drink ek nie weer nie’. Sy het verlede jaar na haar kinders in die buiteland gegaan maar helaas, bly by kinders is nie so maklik nie. Sy het teruggekom en ‘n ruk by haar ouers hier in Bela-Bela gebly, maar toe besluit om weer hier in Renaissance ‘n eenheid te kom huur. Sy het ook voorheen op die Bestuurskomitee gedien en almal is bly om haar weer hier rond te sien.
Voorspoed Sonja!
RIA BRITS – E74
Ria is ‘n weduwee wat vanaf Centurion gekom het om hier ‘n eenheid te huur. Haar een dogter bly net buite Bela-Bela op ʼn plaas en dit was net logies dat sy hier teen baie goedkoper as Pretoria kon kom bly. Sy het nog ʼn dogter wat in Brits bly. Sy het ook drie kleinkinders. Sy is ‘n regte huishen en gaan nie baie uit nie, want sy loop ook baie moeilik maar hoop om lank hier te bly as die eienaar nie gou die eenheid verkoop nie.
PIET PRINSLOO – E133
Piet het groot geword in die Ogies/Witbank omgewing. Hy het nege en twintig jaar vir Eskom gewerk. Nadat hy afgetree het, het hy die Bou Konstruksie omgewing betree. Sy vrou is al in 2015 oorlede. Hy het drie kinders. Twee dogters en een seun en een van sy dogters bly in Australië. Hy het 5 kleinkinders. Hy het vanaf “Die Oog” in Naboomspruit hierheen gekom en huur op die oomblik ‘n eenheid hier in Renaissance. Welkom Piet en mag jou verblyf ‘n gelukkige een wees.
*************************************************************************************
FACTS ABOUT WARMBAD RENAISSANCE THAT ALL RESIDENTS CAN TAKE NOTE OF.
Is the village similar to a townhouse complex?
No. It is a retirement village, which is administered in terms of specific legislation, e.g. Housing
Development Schemes for Retired Persons Act No.65 of 1988 (as amended).
Are administrative guidelines available?
Yes. The Constitution of the Management Association of the Warmbad Renaissance Retirement Village is available on the website https://renaissance-in-die-bosveld.co.za/ (click on “important links” to obtain access to the Constitution and the Rules of Conduct of the Warmbad Renaissance Retirement Village. These rules are obtainable from the administrative office (tel. 014 736 5687 or Cell phone no. 071 397 6374). These guidelines have been drawn up in terms of legislation.
How many people may occupy a residential unit?
A maximum of two. Prospective occupants are required to contact the Administrative Office
(tel. 014 736 5687 or Cell phone no. 071 397 6374) before purchasing or hiring a unit.
What is the minimum age of residents?
For a single occupant, the minimum age is 50. For married or cohabiting couples, one occupant must be at least 50 years old. Residents are not permitted to accommodate a third person (or more) on a permanent basis, except with special permission from the Management Committee for a third person over the age of 50. (like an elderly parent, brother or sister).
What are the monthly costs involved?
The costs vary. However, the monthly levy, consumption of water and electricity, geyser insurance, CSOS levy, DSTV subscription (optional) is payable to the Management Agent. Property tax is directly payable to the local municipality.
Insurance costs?
Insurance costs regarding the building are included in the monthly levy. Residents are required to take out their own insurance for the contents of their unit. In addition, the village is responsible for maintaining the exteriors of the units. However, residents are responsible for maintaining the interior of the unit, including the laundry, courtyard, carport, and verandas.
Does the village provide support to residents who are unable to live independently?
No. The village is designed for self-supporting people. If a resident becomes physically or mentally incapable of living independently, the Management Committee may require that the resident be transferred to a suitable facility.
May residents do their own gardening?
As the village is a sectional title development, a garden service is provided. The cost is covered by the levy. However, traditionally, residents may lay out a garden in consultation with their neighbours within approximately three meters from the exterior walls of their unit.
Are pets allowed?
No, nor may visitors bring pets into the village.
What facilities are available in the village?
The village provides postal boxes, a library, a hairdresser, and an audiological service (by
appointment). Organised social activities are held regularly. Residents may also take part in snooker, darts, ‘jukskei’, ‘hoefies’ and physical exercises.
How secure is the village?
It stands to reason that the security of our residents is one of the main priorities of the Management
Committee.
Safety precautions include strategically placed rolls of razor wire, movement-activated security lights on the western boundary, ultraviolet (UV) beams on the outer perimeter of the premises,
electrified perimeter fence, CCTV cameras at the main entrance, the deployment of armed security personnel if required, a security guard (24hours) and patrolling the premises at random intervals at night, in the event of load-shedding, solar power has been installed in the gatehouse.
A visitor’s register is to be completed by all visitors before anyone can enter the premises.
Where may interested people obtain further information?
The administrative office (tel. 014 736 5687 or Cell phone no. 071 397 6374) may be approached for
further information.
*************************************************************************************
INWONERS WAT DIE OORD VERLAAT HET.
EBVA EN RONEL VOS – E1
Weens gesondheids probleme het hul verhuis na Vanderbijlpark, waar hul nou in ‘n
Versorgingsoord bly. Die Bestuurskomitee wens hul alles van die beste toe.
SAREL EN LENIE STEENKAMP – E72
Na ‘n lang wik en weeg, het hul die eenheid verkoop omdat albei se gesondheid nie na wense is nie. Hul bly nou in Witrivier en die hoop is dat die verandering van omgewing hul net sal goed doen.
CHRIS VAN DEN HEEVER – E75
Chris is al vir ‘n geruime tyd nie meer in die Oord woonagtig nie, ook as gevolg van sy
gesondheid wat agteruit gegaan het. Die Bestuurskomitee deel ons beste wense met
hom vir beter gesondheid.
MARIE OBERHOLZER – E128
Met Marie het dit ook die laaste ruk nie te goed gegaan nie en met die kinders se raad bly
sy nou in Benoni in ‘n Versorgingseenheid. Sterkte Marie en jy gaan gemis word by die
kerklike gebeure.
ANNETJIE VAN ROOYEN (wyle Gerhard van Rooyen se eggenote) voorheen van Eenheid 92
en wat tans in Rusoord Ouetehuis bly, het onlangs ‘n groot rugoperasie gehad en almal wat haar geken het, stuur sterkte en liefdegroete en wens haar ‘n spoedige herstel toe.
********************************************************************************
ʼn Lys van 12 lewenslesse:
- Jy is nooit te oud om ʼn nuwe droom te droom nie.
- Dans al kan jy nie en al is daar nie musiek nie.
- Jou beroep gaan nie vir jou omgee as jy siek en swak is nie, jou familie en vriende sal.
- Maak vrede met jou verlede sodat dit nie jou hede steel nie.
- Raak ontslae van dit wat jy nie regtig gebruik nie. Dit verstop net jou lewe.
- Dit is nooit te laat om gelukkig te wees nie. Die keuse is joune.
- Glimlag vir almal, al glimlag hulle nie terug nie.
- Brand vandag die kerse, gebruik die goeie linne, dra die mooi klere. Vandag is baie spesiaal.
- Bitterheid is ʼn mors van tyd.
- Die mooiste wat hulle aan die einde van jou lewe moet kan sê, is dat jy liefgehad het.
- Bekommernis is ook ʼn mors van tyd.
- Die lewe kom nie met strikkies aan nie, maar is steeds ʼn geskenk. Die besonderse feit van hierdie lys is dat geen van hierdie lesse net vir ʼn paar mense beskore is of buite enigeen se bereik is nie. Daar is niks hier wat geld kos of net vir jong en gesonde mense moontlik is nie.Salomo sê dit so mooi: “Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop” (Prediker 9:4); “Eet jou brood met vreugde” (Prediker 9:7); “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet”(Prediker 9:9); en bo alles “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen (Prediker 9:10) Al wat dit vra is ʼn besluit om voluit te lewe.
*******************************************************************************
VALENTINE FUNCTION
On 13 February 2026 at 6 pm, residents gathered at the LAPA for the annual Valentine’s function. Red was seen all over as residents kept the Valentine’s spirit high. They were treated to delicious Lasagna, homemade bread and salad, and it was finished off with Ice cream and chocolate or caramel sauce.
What is the real story behind Valentine’s Day?
The most common theory is that Saint Valentine was executed by the Roman Emperor Claudius 11 for secretly marrying Christian couples, during the third century AD, a time when Christians were being persecuted.
Where does celebrating Valentine’s Day come from in South Africa?
Celebrating Valentine’s Day in South Africa stems from 19th- and 20th-century British colonial influence, later solidified by American pop culture, media, and retail commercialisation. While not an indigenous tradition, it was adopted by urban elites before becoming a mainstream…” Valentine’s Day”, a popular, nationwide celebration of romance, gifts and dining out, particularly flourishing after 1994.
******************************************************************************
Daar’s ‘n ding in ons dak . . .
“Wat’s dit Trudie? Sien jy iets?”
Sy neem ‘n foto met haar selfoon, dan hande in die sye tuur sy na die dak.
“Jy sal dit nou nie glo nie, maar ek vermoed moeilikheid – daar’s ‘n ding in ons dak!”
“Wat? Waar?”
“Kyk daar bo in die hoek van die motorafdak en die huis – hy’s daarin!!!”
“Wat is daar in?”
Ja, dit was toe soos ons vermoed het – daar op die selfoon kamera kan mens dit duidelik sien.
Sy lang stert en al!
“Ek’t gedink dis rotte in ons dak – toe nou nie! Die ding het hom intussen lekker tuisgemaak.
Ons hoor hom van tyd tot tyd. Hoe op aarde kom hy daar en wat soek hy op ons dak?”
Daar is veld aan twee kante van ons oord, maar eenheid 33 is reg in die middel – hoekom hier?
Dit maak ons nuuskierig – het julle geweet dat likkewane uiters sterk is en maklik oor heinings
soos ons oord s’n klim of sommer onder deur grawe? Maar die interessantste ding is dat hulle
van alle reptiele die grootste breine in verhouding tot hul liggaams-grootte het? Hulle is slim
en onthou baie goed. As hulle dan ‘n plek vind waar daar water is om te drink, kos om te eet en
skuiling soos ‘n huis se dak, dan voel hulle tuis. As hy eers tuis is, onthou hy baie goed waar dit
is en selfs as ons hom sou verjaag, kom hy waarskynlik weer. Met hul plat lywe kan hulle maklik
in smal skeure en tussen los dakpanne in wriemel.
Ons behoort likkewane as vriende te beskou want hulle eet aas, maar vang veral muise en
rotte. Rotte eet ook enigiets en is nogal met tye baie lastig hier in ons oord. Vir ons is likkewane
in ons dak nie welkom nie. Aan die ander kant moet ons kyk hoekom hulle dit daar so gemaklik
vind. Die veld langsaan ons is droog en daar is nie water nie – dis een rede.
Hoe dan gemaak om so ‘n onwelkome gas te verwilder? Om hom met kaal hande te vang is nie
aan te bevele nie. Al is hy nie giftig nie, kan sy byt ontsteking veroorsaak. As mens hom in ‘n
hoek dryf blaas hy homself op en sis soos ‘n ware draak om mens te laat skrik! Om die
likkewaan te verwilder kan mens geraas maak en teen die plafon klop of ‘n radio in die dak
hard speel – hy hou nie van geraas nie. Hy hou ook nie van lig nie. Soms sit mense ‘n lig in die
plafon om hulle ongemaklik te maak. Dit werk om hom te verwilder, maar as die gat waar hy
ingekom het daarna nie verseël word nie, is alles te vergeefs.
‘n Ander plan is om vir hom ‘n lokval te skep – soos ‘n katte valhok met aas daarin. Hy kan dan
ver weg in die veld vrygelaat word om sy lewe voort te sit. Likkewane speel ook ‘n belangrike
rol in ons natuur en ons as mense se welsyn. Ons moet hom asseblief net nie vergiftig nie. Hy is
die mens se vriend!
Na ‘n dag of twee was die likkewaan weg.
“Nee wat” sê Trudie, “hy het self geloop. Ons dak was seker nie lekker vir hom nie. Gelukkig is
hy nie ‘n gevaarlike dier nie”. Ingrid van den Berg
|
|
|

